'n eier sal sommer gaar word sonder om te kook"
Dit was die woorde van my liefling juffrou op skool, so rond standerd 1 as ek my goed onthou, so net voordat ons somervakansie begin het.
En, dit was die begin van my eerste groot eksperiment, en ook die groot uittog van eiers uit ons huis, daardie somer.
My arme ma moes gewonder het, of daar 'n gees in haar kombuis rondwaar.
Dit was ek.
Eers het ek 'n kommetjie in die sand uitgehol, en 'n eier in daardie kommetjie gebreek. En gewag. Die ganse middag in die warm somerson gewag. Daar het miere in geland en die arme goed het 'n aaklige dood gesterf. Maar, die eier het nie gaar geword nie.
Ag, dink ek toe, miskien moet ek 'n rots gebruik. 'n Vlak rots.
Dit was my volgende poging. In 'n holtetjie van 'n rots het 'n eier in die warm son gelê en langsaam verander in 'n taai vrotterige gelei. Ai tog, niks het gaar geword nie, ek het gestaar na die eiwit tot my oë gebrand het in my kop in die hoop dat ek 'n bietjie wit kon sien. Maar daar was niks. Nada.
Toe brainstorm ek baie hard. Wat nou.... hoekom wil die eier nie gaar word nie, dit is mos warm genoeg??!! Ek het daardie dae altyd kaalvoet geloop buite, en het goed genoeg verstaan dat die swart teer van die straat baie warmer was dan die wit sand. Spring, spring van wit vlek na wit vlek, het ek buite voortbeweeg in daardie warm somertyd.
Swart rots, dog ek toe. Dit is wat ek moet gebruik, 'n SWART rots.
My soektog na die perfekte rots het enkele dae gekos maar uiteindelik het ek eentjie gevind. Met 'n vriendjie het ek en nog 'n eier uit my ma se kombuis opgetrek so rond die middag uur wanneer die son reg bo ons genadeloos skyn. Ek was so seker dat daardie eier gekook sou word.
Nee. Dit het nie gewerk nie. My vriendjie het na 'n paar uur huistoe gegaan, ek het eensaam agtergebly met my aandag op die rots. Die swart rots. Die bliksemse swart rots, en die eier wat glinster en maar nie gaar wil word nie.
'n Paar dae later het ek nog één poging gewaag, en dit was sommer my laaste poging. Êrens het ek iemand hoor sê, dat die bonnet van 'n kar so warm was dat 'n mens brandwonde kon oploop. Ek het onmiddelik die implikasies hiervan ingesien, en het huistoe gehardloop vir 'n eier.
My pa se kar was voor die huis geparkeer (en nogal 'n swart kar ook, perfek!!!)
Oor die voorkant van my pa se splinternuwe trots, waarvan hy elke stoffie versigtig verwyder het met 'n spesiale doekie, het ek 'n vet eier gebreek. Die glibberige ding het 'n spoor getrek oor die lak, en 'n groot deel van die eier het op die grond geland. Die eier wat nog op die kar was, het ook nie gaar geword nie. Ek was baie teleurgesteld. En later die dag, toe my pa die toevoeging op sy kar gevind het, was ek baie ontstem dat hy eers vir my vurig en vrek lang gepreek het oordat ek aan sy kar gekom het, en vervolgens my vir die res van daardie baie lang, warm week huisarres gegee het. Bliksem!!!!
Ek dink, daardie juffrou het gejok.
Ek het nooit buite 'n eier kon kook sonder vuur nie, maak nie saak hoe warm dit was nie - en glo my, ek het oor die jare nog 'n paar keer geprobeer!
En tog, soms, as dit baie baie warm is buite, is daar 'n stemmetjie binne my wat wonder, "is dit miskien warm genoeg om 'n eier gaar te kook...?"
Herinneringe en stories van 'n bleddie Hollander oor haar jeug in Suid Afrika.
(ekskuus vir my slegte Afrikaans, dis jare dat ek dit laas gepraat of geskryf het)
Saturday, March 01, 2008
Subscribe to:
Posts (Atom)