Ek dink sy naam was Riaan.
Maar ek kan verkeerd wees, dit was baie lang gelede.
In Sub A en Sub B, Ysterplaat Laerskool, het ons twee langs mekaar gesit wanneer ons mog speel met klei. Ek het gedink hy is sommer wonderlik. Hy kon die mooiste goeters maak met klei.
En, hy het ook gedink dat ek sommer wonderlik was. Nee, dis nie hoe ek dit onthou nie, maar wat my ma my vertel het, lang nadat ons êrens anders gaan woon het.
So rond my tiende verjaardag het my ma my die storie vertel...
Sien, my ma het iets vir my bewaar al die jare nadat ons daar weg is. Blykbaar was klein Riaan so dol op my dat hy in sy ma se juwele in geklim het en vir my 'n broche gevat het om te gee. My ma het vertel my hoe ek op 'n dag na skool, blink van trots, die ding vir haar gewys het. Ek het blykbaar vertel dat ek en hy verlief was en dat ons later sou gaan trou. Sy het toe uitgevind waar Riaan gewoon het en het op 'n dag kort daarna by sy ma 'n koppie tee gaan drink. En het vir ma Riaan vertel wat seunlief aan my gegee het. Die twee moeders het hartlik hieroor gelag en Riaan se ma het toe gesê "Bewaar die broche en gee dit aan jou dogter as sy ouer is. Dit kan ek mos nie terugvat nie!"
En dit is wat gebeur het.
Ek is nou 50 jaar oud en ek het na Sub B nooit weer vir Riaan gesien nie.
AS dit sy naam was, want ek onthou dit nie meer seker nie.
Al wat in my geheue gegrif is, is hoe ek kyk na sy slim hande soos hy die pragtigste goeters maak uit die klei - blou, rooi, groen, geel en alles gemeng tot daar strepe en patrone draai en swaai...
Ek het ook nie getrou met hom nie.
Die broche, die het ek nog.
Nou en dan speld ek dit vas op my klere en dan glimlag ek.
Vir die seuntjie wat so goed was met kleigoed maak.
Vir my eerste verliefdheid.
Ai tog.
Herinneringe en stories van 'n bleddie Hollander oor haar jeug in Suid Afrika.
(ekskuus vir my slegte Afrikaans, dis jare dat ek dit laas gepraat of geskryf het)
Friday, April 11, 2008
Subscribe to:
Posts (Atom)