Herinneringe en stories van 'n bleddie Hollander oor haar jeug in Suid Afrika.
(ekskuus vir my slegte Afrikaans, dis jare dat ek dit laas gepraat of geskryf het)

Friday, February 01, 2008

Sing!

Ons het 'n sangjuffrou op die laerskool in Bothasig gehad, as ek goed onthou was haar naam Mrs. Piek. Sy was 'n voormalige opera sangeres en ek was mal oor haar. Sy het baie aandag gegee aan my, hoekom weet ek nie want my stem was nou nie so bisonder nie. Maar ja, ek het haar sanglesse baie geniet en sy het dit geniet om my te leer sing en asem haal.

Elke jaar het sy my ingeskryf vir die nasionale Eisteddfod.
Ek onthou nog baie goed hoe dit die één jaar gegaan het, so rond 1966, 1967.
Die liedje, was van 'n teer bokkie. My arme stem het die boonste noot maar net gehaal sonder om oor te slaan.
DIE STEENBOKKIE

Woorde: HARPER MARTINS
Musiek: WALTER SPIETHOFF; verwerk: D. HYMAN

Dis 'n bokkie, soos 'n stokkie,
soos 'n kweperlatjie skraal,
wat so vinnig oor die klippe
soos die kweperlat sy wippe
met sy skrale pootjies haal,
wat so vinnig oor die klippe
soos die kweperlat sy wippe
met sy skrale pootjies haal,
met sy skrale pootjies haal.

Op die dag van die Eisteddfod, het my pa my gebring. Hy het gebly, om te hoor hoe ek sing. Ek was tog te opgewonde hieroor. Hy het gewag, en gewag en gewag. Die een na die ander kind het dieselfde liedjie gesing. Uiteindelik het hy gesê, hy gaan gou sigarette koop. Ek was bekommerd dat hy nie betyds trug sou wees nie, maar hy sê moenie worrie nie, ek sal trug wees om te luister.
Hy was maar een of twee minute weg, toe roep hulle my naam.
Ek het gaan staan op die verhoog, en ek het gesing. Met 'n knop in my keel, want hy was nie daar om te luister nie.
Toe hy trugkom in 'n warreling van koue lug en sigaretrook, was alles verby. Ek het 'n diploma gekry, het 'n baie goeie beoordeling gekry behalve dat een van die jurylede gesê het, dat my stem 'n bietjie hesig was.

Ag kind, moenie jou hier iets van aantrek nie, het Mrs. Piek gesê.
Ja, jou stem is 'n bietjie hesig maar dit is nie 'n fout nie.

Hmm, het my pa gesê. En my die kar ingebondel om gou huistoe te ry.
Dit was die eerste en enige keer dat hy kom luister het wanneer ek optree. Ek het nog 'n paar jaar langer aangegaan met kompeteer in die Eidsteddfod, en het ook gesing in die skoolkoor - eers onder leiding van Mrs. Piek, en daarna met haar opvolgster (ek onthou nou nie meer wie dit was nie). Omdat ek dit so geniet het om te sing. Maar niemand in my familie het my ooit gehoor optree nie.

Ag, ek kon nie kwaad bly vir my pa nie, ek het hom die seermaak vergewe.
Jare later het ek self ook gerook, en kon toe verstaan hoe hard die lus kan trek aan 'n mens.
Ek het uiteindelik ses jaar gelede kon stop. Dit is 'n swaar verslawing, nikotine.

Soms dink ek nog aan haar. Mrs. Piek. Ek sou haar vandag nie herken nie, ook nie van 'n foto nie. Maar ek was mal oor haar en sy het so 'n belangrike rol in my lewe gespeel toe ek jong was. Ek sing nog steeds (baie hees na al die jare van rook) en nou en dan, op 'n baldadige dag, sing ek nog steeds die lieder wat sy my geleer het, so 40 jaar gelede. Ek ken nog steeds die woorde!
Dankie, Mrs. Piek!

No comments: