Ek was 14 jaar oud. My skool was in Vryzee, en ons het gewoon in Bothasig. Dit was standerd 7 vir my. Ek het die eerste deel van daardie jaar met die bus skooltoe gegaan en weer terug huistoe.
Elke dag het ek ten minste 'n halfuur gewag op die bus wat my huistoe sou vat, daar êrens aan die onderkant van Voortrekker Road (skiet my lam as ek kan onthou presies waar die busstop was). Baie dae, het 'n seun ook gewag by dieselfde busstop vir sy bus. Sy naam was Henry en soos die tyd verstryk het, het ons mekaar leer ken. Gesels. Soms na 'n winkel gegaan om iets lekkers te koop om te eet... vrugte, of 'n sweetie pie of soiets. Een dag sê hy vir my, hy woon nie ver van die busstop nie, wil ek saam met hom huistoe loop? Ja, sê ek. Ons loop toe saam na sy huis toe, en ek dink ek het 'n bekertjie koeldrank gedrink toe ons daar aankom. Hy loop my later weer trug na die busstop toe. Vir my was dit 'n wonderlike dag, daardie dag. Ons het nie eens hande vasgehou nie maar ons het geweet, ons like mekaar!
Kort daarna het Henry my by my huis gebel om my uit te vra.
En toe was dit skielik uit met die pret. Ek is vreeslik gepes deur my susters en my pa oor Henry (die naam was nou niet vreeslik fortuinlik nie en die arme ou het 'n bietjie gehakkel oor die telefoon toe hy na my vra).
My pa was van die stempel: hy het vier dogters gehad en in 'n totale paniek oor wat om te doen met al die hormone, het hy sommer altyd NEE gesê as ons wou uitgaan met 'n seun, of met 'n groepie jong mense (julle wil nie weet hoe ons losgebreek het toe ons eindelik uit die huis uit is nie...)
Lang storie kort, my pa het my 'n fiets gekoop byna onmiddelik nadat Henry my gebel het om uit te vra, en het my elke dag skooltoe gery met die kar tot ek die pad goed met die fiets kon ry. Ons het kort daarna getrek na Monte Vista toe, en dit was dus Exit Henry. Ek dink nie dat ek Henry nog ooit gesien het nie, nadat hy my uit gevra het nie.
Ek het nogal baie van Henry gehou - hy was 'n ernstige seun en het goed by my gepas. Nie dat ek enige invloed kon hê op hoe dinge toe verloop het nie, maar ek was altyd jammer dat ek nooit beter vriende met Henry geword het nie, en dat ek nie met hom kon uitgaan nie. Ek dink ons twee was op die punt om klutsknië verlief op mekaar te word, soos alleen kinders van veertien kan wees.
Herinneringe en stories van 'n bleddie Hollander oor haar jeug in Suid Afrika.
(ekskuus vir my slegte Afrikaans, dis jare dat ek dit laas gepraat of geskryf het)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment