Herinneringe en stories van 'n bleddie Hollander oor haar jeug in Suid Afrika.
(ekskuus vir my slegte Afrikaans, dis jare dat ek dit laas gepraat of geskryf het)

Friday, December 21, 2007

Padkos

Ek was 'n regte ronddwaal kind. Ek het in die oggende die huis uitgeskiet en alleen weer terug gekom as ek honger was. Dit was nie so vinnig as 'n mens sou dink nie, want ek het orals langs die pad goeters gevind wat ek kon eet.

Daar was baie moerbeibome (mulberry trees) in die buurt, met vet blink vrugte wat in 'n mens se mond uiteenspat. Toe ek groter word, was hierdie boom vir my belangrik om my sywurms te voer maar toe ek klein was, was daardie swart soet moerbeie alles vir my.

Orals vyebome ook, natuurlik! Daar was 'n groot ou vyeboom in ons agtertuin en ek was mal oor die boom. Dit was my eerste en beste klimboom. Ek was 'n regte bobbejaan en het altyd in bome geklim vandat ek regop kon staan en deur die agterdeur kon uitloop... soms selfs in 'n breë boeg gaan settle en slaap! Nooit uit 'n boom geval nie, ek was so tuis in hulle asof ek oor die pad loop! Anyway, oor die ou vyeboom in ons agtertuin sal ek nog stories vertel, later. Hy het heerlike groen vye gehad: mens moes kyk aan die onderkant dat die klein rooi gaatjie oop was, dan kon 'n mens jou duime indruk en oopskeur... en die heerlike pienk vrug aan die binnekant opeet en met jou tande skraap oor die dun velletjie om seker te maak dat jy soveel moontlik opgeëet het. Natuurlik altyd goed kyk of jy nie miere sien inloop of uitloop uit daardie gaatjie nie, want anders kon 'n mens onverwags 'n mier eet en jis, dit het vreeslik vies gesmaak!

Anyway, verder was daar nog lukwarte. Orals in die buurt het oor die sypaadjies lukwart bome die wag gehou. In die somer, altyd trossies oranje-geel vrugte. As hulle ryp was, het hulle geproe soos sonskyn (behalwe vir die bitter velletjie in die middel rond daardie gladde bruin pitte maar 'n slim kind het dit altyd vinnig uitgespoeg. Ek het altyd onderdeur die groen plafon van lukwart bome geloop en so terwyl ek loop, my hand boontoe gesteek om die vrugte te pluk. Argeloos. Oorvloed.



Natuurlik was daar orals guava's. Koejawels. Dit was weggooi vrugte, met hulle velletjie vuil geel en dun en vol lelike plekke as hulle ryp was, maar 'n mens kyk nie hierna nie, 'n mens byt met skerp wit tande deur daardie vel in die hot pink binnekant met al die pitjies en daardie onvergeetlike soet ryp smaak. O, ons was so vreeslik bederf! Ons het nie 'n baie hoë dunk gehad van koejawels nie. Wat kon 'n mens doen hiermee? Jam maak, en vars eet. En laat val van die boom en vrot. Dis wat baie mense maar gedoen het ook... Ag, wat 'n verspilling!! Hier in die vreemde-bekende tweede tuisland van my vind 'n mens byna nooit koejawels nie. Dis mos te koud om hier te groei. Soms, in 'n spesialiteite winkeltjie, vind 'n mens eentjie vir 'n walglike hoeveelheid geld. Ek koop hulle nooit nie want hulle proe nie reg nie (miskien omdat hulle te groen gepluk word?) maar hulle ruik heeltemal reg - ek hang altyd oor so 'n vrug en snuif of my lewe hiervan afhang. Trane spring sommer in my oë... ai, ruik enigiets op hierdie wêreld heeltemal so lekker as dit???!!!

Dan nog, nektar uit die blomme. Orals was heinings en die meeste van hulle het hierdie blomme gehad: Tecomaria capensis (Cape honeysuckle) met sulke langwerpige oranje kelkies.

Pluk 'n blom, suig hom leeg uit die onderkant, een of twee druppels nektar, pluk 'n volgende blom en bly dit doen tot jy voldaan voel. Daar was altyd so baie blomme in 'n heining, dat mens nooit alles kon leeg pluk nie. En die volgende dag, was daar weer net so baie blomme om te van te drink. Suikersoet, met die son wat skyn op jou skouers. Dit was te lekker!

Nog 'n blom wat ek altyd geëet het, is 'n vetplant wat ons suurvy genoem het (Carpobrotus edulis). Dit het sommer orals welig gegroei. Wanneer hy bloei, is die blomme geel en te pragtig. Mens moet wag totdat hulle heeltemal uitgebloei is, en totaal verdroog. Dan vat mens die vet bodempie wat oorbly en byt die verdroogde steeltjie aan die onderkant af. Spoeg dit uit. Suig dan die binnekant uit - 'n dik soet stroop met baie klein pitjies wat heel bevredigend crunch tussen jou tande. Hemels lekker, dit het ons kinders altyd in die nasomer of herfs geëet. Blykbaar mag 'n mens hulle nie meer pluk en eet nie. Ag sies tog, die arme kinders van vandag.

O ja, ek onthou nou, appelliefies ook (Physalis peruviana, Cape Goosberry). Toe ek klein was, het hulle nie so lekker vir my geproe nie maar oor die jare het my smaak verander en word hulle steeds lekkerder. Nou, as ek 'n dosie in die supermark sien, ploeg ek deur die ander shoppers soos 'n buffel tot ek my eentjie bemeester.


Goue tye. Gratis kos vir avontuurlike kinders. Paradys.

Dit was alles wat ek nou kon onthou van ons (kinders se) padkos in die dae wat ons in Ysterplaat gewoon het, en later ook in Bosmansdam. Ek is seker daar was nog meer wat ek nou nie onthou nie - laat my gerus weet.

Friday, December 14, 2007

So rond 1964 - seeing stars!

Die lug is donker blou en word langsaam donkerder. Die eerste sterre begin fonkel en vang my oog. Ek staan op die hoek van die straat waar ons in woon - ek is nie seker nie, maar ek dink ek is nog nie ses jaar oud nie. Anyway, ek is nog nie skool toe nie, dit weet ek seker!

Ek stop en kyk boontoe na die sterre. En, ek bly kyk soos die lug al hoe donkerder word. Steeds meer sterre word sigbaar en ek voel gehipnotiseer, ek kan nie wegkyk nie. Dit is so mooi, ek wil byna huil. Terwyl ek so boontoe kyk, dink ek aan wat iemand vir my gesê het, dat elke ster 'n son is soos ons eie son, en dat hulle ook planete en goeters het wat rond hulle draai.

Skielik voel dit of 'n knoppie in my kop omgeskakel het, en ek sien alles soos dit is: ek wat staan op hierdie hoek van die straat op hierdie groot bal wat ons aarde noem, wat dans om die son terwyl ons maan jaloers om ons heen draai, en al die ander planete wat ook dans om die son, en so ver as ek kan sien, ander sonne ver weg met hulle planete wat ook dans en miskien staan daar op 'n hoek van 'n straat erens, 'n meisie en kyk boontoe en sien 'n liggie glinster en sy wonder.

Ek kon dit alles sien, en verstaan tot in die diepste diepte, op daardie oomblik wat gevoel het of dit vir ewig duur.
Ek dink dit was waar die grondveste van my ateisme gevorm het. Want, nie vir één oomblik het ek 'n god of 'n heilige engel of so in hierdie geheel gesien nie. Dit was alles so logies, so reg, so ongelooflik mooi.

Dit was my eerste epiphany, en gelukkig nie my laaste nie.

Sunday, December 09, 2007

So rond 1965 - bang

Vir die eerste keer in my lewe was ek bang. Klutsknië bang. Draaimaag bang.

Ek was vlei toe die dag om paddavissies te vang en toe sien ek varklelies. So het ons hulle genoem, varklelies. 'n Kras naam vir sulke mooi blomme... ek dink hulle lyk pragtig, en besluit toe om 'n paar vir my ma te pluk en huistoe te neem. Halfuur later, met meer modder op my rokkie dan 'n mens moontlik sou ag, het ek 'n groot bos varklelies in my arms en koers ek huistoe. Toe ek op die sypaadjie loop van die hoofstraat, kom ek iemand teen wat ek ken. Wie, onthou ek nie meer nie, maar hierdie persoon vertel toe vir my dat varklelies pluk teen die wet is (huh? wet? wat is 'n wet???) en dat as die polisie my sien, hulle sal stop en my in die polisiekar gooi en tronk toe vat. Polisiekar, daai het ek geken. Met die sirenes die gil asof die wêreld vergaan, het hulle baie keer langsgeraas op pad na 'n vreeslike krisis. Ek was altyd bang vir hulle, en toe ek nou verder loop, verwag ek enige oomblik dat ek die sirene hoor, en dat die polisiekar sommer die sypaadjie opry agter my aan. Ek weet nie meer hoe lang dit my gevat het om huistoe te loop nie, maar elke stap het my beentjies swakker gevoel en het ek kleiner gekrimp. Ooit probeer loop met 'n groot bos blomme en probeer hulle onsigbaar te maak? Dit werk nie eintlik nie...

Aan die einde, toe ek die huis binne loop, besef ek dat ek het weggekom met 'n misdaad. Ek was slimmer as die polisie, hulle het my nie gevang nie!
Tog het ek nooit weer varklelies saamgevat van die vlei af nie (totdat ek 'n jaartjie ouer was!).

Friday, December 07, 2007

So rond 1964

Toe staan ek op die hoek van ons straat en kyk boontoe in die helder blou lug en sien die vliegtuie ver bo my kop, ek hoor hulle dreun en ek sien hoe die soldate uitspring, een vir een, 'n lang byna dwars squiggly streep uitgepoep en my hart klop in my keel... sal die parachute hierdie keer ook goed oopgaan?
En ja elke eentjie gaan oop en daar sak hulle langsaam trug aarde toe, ronde bol koepels bo 'n teer stokfiguurtjie. Ek het bly wag tot hulle almal weer op die grond was. Nie dat ek hulle kon sien land nie, hulle het op die lugmagbasis geland.

Ek wou dit ook doen. Ek wou ook vlieg soos hulle.

Ek was ses.

Thursday, December 06, 2007

So rond 1963 - the queen bee

Ek is nie gewoond aan ander kinders nie. Een dag vat my pa my saam, en ons gaan na 'n plek met tuine en baie mense op die straat. Oor 'n paar weke sou ons trek hiertoe, maar ek weet op daardie dag nog van niks.

My pa praat met iemand in sy voortuin, en daar kom 'n meisie aangeloop van my eie leeftyd... sy het die pragtigste lang krulhare. Haar pa sê haar naam is Antionette, vir my was dit die mooiste naam en die mooiste meisie wat ek nog ooit gesien het. Antionette was nie so skaam soos ek nie, en sy het later my beste vriendin geword. Soms. Ander dae, was sy sommer sat vir my en was sy met ander kinders beste vriende.

Antoinette was die queen bee van die wyk. As sy you pal was, was almal jou vriend. As sy niks van jou wou weet nie, was jou naam modder.
Ons kinders het omtrent ons bes gedoen om in haar goeie boekies te wees... ons was nie bang om by mekaar 'n mes in die rug te steek nie, as dit ons uitkom.

Wie kinders weet niks van politiek af nie??!!