Herinneringe en stories van 'n bleddie Hollander oor haar jeug in Suid Afrika.
(ekskuus vir my slegte Afrikaans, dis jare dat ek dit laas gepraat of geskryf het)

Friday, December 21, 2007

Padkos

Ek was 'n regte ronddwaal kind. Ek het in die oggende die huis uitgeskiet en alleen weer terug gekom as ek honger was. Dit was nie so vinnig as 'n mens sou dink nie, want ek het orals langs die pad goeters gevind wat ek kon eet.

Daar was baie moerbeibome (mulberry trees) in die buurt, met vet blink vrugte wat in 'n mens se mond uiteenspat. Toe ek groter word, was hierdie boom vir my belangrik om my sywurms te voer maar toe ek klein was, was daardie swart soet moerbeie alles vir my.

Orals vyebome ook, natuurlik! Daar was 'n groot ou vyeboom in ons agtertuin en ek was mal oor die boom. Dit was my eerste en beste klimboom. Ek was 'n regte bobbejaan en het altyd in bome geklim vandat ek regop kon staan en deur die agterdeur kon uitloop... soms selfs in 'n breë boeg gaan settle en slaap! Nooit uit 'n boom geval nie, ek was so tuis in hulle asof ek oor die pad loop! Anyway, oor die ou vyeboom in ons agtertuin sal ek nog stories vertel, later. Hy het heerlike groen vye gehad: mens moes kyk aan die onderkant dat die klein rooi gaatjie oop was, dan kon 'n mens jou duime indruk en oopskeur... en die heerlike pienk vrug aan die binnekant opeet en met jou tande skraap oor die dun velletjie om seker te maak dat jy soveel moontlik opgeëet het. Natuurlik altyd goed kyk of jy nie miere sien inloop of uitloop uit daardie gaatjie nie, want anders kon 'n mens onverwags 'n mier eet en jis, dit het vreeslik vies gesmaak!

Anyway, verder was daar nog lukwarte. Orals in die buurt het oor die sypaadjies lukwart bome die wag gehou. In die somer, altyd trossies oranje-geel vrugte. As hulle ryp was, het hulle geproe soos sonskyn (behalwe vir die bitter velletjie in die middel rond daardie gladde bruin pitte maar 'n slim kind het dit altyd vinnig uitgespoeg. Ek het altyd onderdeur die groen plafon van lukwart bome geloop en so terwyl ek loop, my hand boontoe gesteek om die vrugte te pluk. Argeloos. Oorvloed.



Natuurlik was daar orals guava's. Koejawels. Dit was weggooi vrugte, met hulle velletjie vuil geel en dun en vol lelike plekke as hulle ryp was, maar 'n mens kyk nie hierna nie, 'n mens byt met skerp wit tande deur daardie vel in die hot pink binnekant met al die pitjies en daardie onvergeetlike soet ryp smaak. O, ons was so vreeslik bederf! Ons het nie 'n baie hoë dunk gehad van koejawels nie. Wat kon 'n mens doen hiermee? Jam maak, en vars eet. En laat val van die boom en vrot. Dis wat baie mense maar gedoen het ook... Ag, wat 'n verspilling!! Hier in die vreemde-bekende tweede tuisland van my vind 'n mens byna nooit koejawels nie. Dis mos te koud om hier te groei. Soms, in 'n spesialiteite winkeltjie, vind 'n mens eentjie vir 'n walglike hoeveelheid geld. Ek koop hulle nooit nie want hulle proe nie reg nie (miskien omdat hulle te groen gepluk word?) maar hulle ruik heeltemal reg - ek hang altyd oor so 'n vrug en snuif of my lewe hiervan afhang. Trane spring sommer in my oë... ai, ruik enigiets op hierdie wêreld heeltemal so lekker as dit???!!!

Dan nog, nektar uit die blomme. Orals was heinings en die meeste van hulle het hierdie blomme gehad: Tecomaria capensis (Cape honeysuckle) met sulke langwerpige oranje kelkies.

Pluk 'n blom, suig hom leeg uit die onderkant, een of twee druppels nektar, pluk 'n volgende blom en bly dit doen tot jy voldaan voel. Daar was altyd so baie blomme in 'n heining, dat mens nooit alles kon leeg pluk nie. En die volgende dag, was daar weer net so baie blomme om te van te drink. Suikersoet, met die son wat skyn op jou skouers. Dit was te lekker!

Nog 'n blom wat ek altyd geëet het, is 'n vetplant wat ons suurvy genoem het (Carpobrotus edulis). Dit het sommer orals welig gegroei. Wanneer hy bloei, is die blomme geel en te pragtig. Mens moet wag totdat hulle heeltemal uitgebloei is, en totaal verdroog. Dan vat mens die vet bodempie wat oorbly en byt die verdroogde steeltjie aan die onderkant af. Spoeg dit uit. Suig dan die binnekant uit - 'n dik soet stroop met baie klein pitjies wat heel bevredigend crunch tussen jou tande. Hemels lekker, dit het ons kinders altyd in die nasomer of herfs geëet. Blykbaar mag 'n mens hulle nie meer pluk en eet nie. Ag sies tog, die arme kinders van vandag.

O ja, ek onthou nou, appelliefies ook (Physalis peruviana, Cape Goosberry). Toe ek klein was, het hulle nie so lekker vir my geproe nie maar oor die jare het my smaak verander en word hulle steeds lekkerder. Nou, as ek 'n dosie in die supermark sien, ploeg ek deur die ander shoppers soos 'n buffel tot ek my eentjie bemeester.


Goue tye. Gratis kos vir avontuurlike kinders. Paradys.

Dit was alles wat ek nou kon onthou van ons (kinders se) padkos in die dae wat ons in Ysterplaat gewoon het, en later ook in Bosmansdam. Ek is seker daar was nog meer wat ek nou nie onthou nie - laat my gerus weet.

1 comment:

Anonymous said...

Die lukwarte is darem 'n HEERLIKE vrug...ons het op die plaas ook 'n boom gehad en naby die plaashuis was 'n appelliefie-bos...jy laat my darem nou terug verlang!! ;)